Friday, 1 April 2011

Oorsigtelik - Senekal Vandag

Hierdie is 'n uittreksel van 'n artikel wat in die Volksblad Kontrei verskyn het op 27 Oktober 2010.
(For the convenience of other readers, a Google Translator is at the top right hand.)
Volksblad Kontrei - 27 Oktober 2010

Omtrent elke dorp in die Vrystaat het ’n ryke geskiedenis rondom hom, maar dit is dan ook dorpe waar daar mense woon en nie net geskiedenis nie. Nou wil ons graag meer vertel oor die Dorp en sy mense, en die geskiedenis oorlaat vir ’n ander geleentheid.
So is Senekal dan een van die pragtigste klein Oos-Vrystaatse dorpe wat op die N5 geleë is en dan seker ook so een van die mees sentrale dorpe in die Vrystaat, as nie in die Republiek nie. Senekal is deel van die Setsoto Plaaslike Owerheid wat vanaf Ficksburg bedryf word. Wat so opvallend van hierdie dorpie is, is die mense wat daar woon en alte graag sal wuif met die hand, of jy nou ’n ou kennis is of net ’n besoeker aan hierdie deel van die land.
Hierdie dorpie verleen hom maklik aan die uitdrukking van ’n ‘Mini Metropool’ aangesien omtrent alle alledaagse benodighede op die dorp beskibaar is, hetsy kruideniers en klere tot Bankdienste, Rekenmeesters, Drukkers, Makelaars en dan ook goeie Mediese Praktisyns. Sou iets anders nog nodig wees, is daar vele groter sentra binne kort afstand. Daar is selfs ’n Gesondheids Spa nou op die dorp.
Daar is 6 Gastehuise in die dorp asook 3 Gasteplase net buite die dorp wat ideaal is vir die toeris wat wyd wil kyk. Aangesien die dorp so sentraal in die Oos Vrystaat geleë is, kan die besoeker aan hierdie omgewing lekker kom afsaal en dan kan die hele Oos Vrystaat besoek word. Omtrent alles is binne ’n 100Km trefafstand vanaf Senekal.
Senekal is een van die omgewings met van die rykste prehistoriese geskiedenis. Een van die bekendste bakens dan is die Versteende Hout wat in die omgewing uitgehaal is en gebruik word as die omheining van die NG Moerkerk in die middel van die dorp. Die versteende hout is volgens wetenskaplikes 250 miljoen jaar oud hoewel daar gemeen word dat van die hout tot 350 miljoen jaar oud kan wees. Die langste heel stam is 17,5 meter lank en is aan die Westekant van die ringmuur. Al die hout is aan die westekant van die Sandrivier uitgehaal.
Daar word baie gedoen vir die opheffing en versorging van die bejaardes in die gemeenskap. Daar is die Senekal Aftree Oord, Huis Westerson wat ook ’n Ouetehuis is en dan die Glimlag Dienssentrum. Baie aksies word geloods om fondse in te samel om die dienste rondom die versorging van die bejaardes aan die gang te hou.
Daar is in hierdie klein gemeenskap ook nie ’n tekort aan opvoedkundige instellings nie. Daar is ’n totaal van 13 instansies wat vanaf voorskool tot Hoërskool insluit. Die skole geniet geweldige ondersteuning vanuit die gemeenskap en die hele dorp het alweer hulle steun aan hierdie jaar se matrikulante toegesê.